Reviews

Koos Kombuis: Scarecrows in a Field.

Een van die beste plaaslike albums wat in die afgelope paar jaar verskyn het, is ‘n CD getiteld Scarecrows in a Field deur Chris Davidson en Bill Knight. Dis ‘n wonderlike opname wat teen hierdie tyd al ikoniese status moes behaal het onder plaaslike luisteraars.
Dit bevat sewentien nuwe komposisies wat spreek van liriese voortreflikheid en musikale genialiteit. Dit is waarskynlik die beste produk waaraan Bill Knight nog gewerk het. Maar word dit ooit gehoor?
Om die album fisies in die hande te kry, moet jy wag tot Bill en Chris weer ‘n slag optree in die Alma Café (en jy moet gou maak, want hulle is nie meer so jonk nie), of jy moet self vir Bill gaan kuier in Kommetjie (of sy nuwe adres uitvind, want daar is gerugte dat hy gaan trek). Die feit dat geen radiostasie hierdie musiek nog opgelet het en begin speel het nie, maak die situasie natuurlik nog meer hopeloos.
Dit is dan eintlik my grootste vraag: Selfs met die nuwe reëling in plek, hoeveel moeite gaan die ouens wat die speellyste saamstel doen om uit hul pad te gaan om interessante plaaslike musiek op te spoor? Is hulle bereid om in hulle kombi’s te klim soos David Kramer vanouds en die platteland in te vaar tot hulle iemand onder ‘n boom sien sit en geluide maak met ‘n blikkitaar en ‘n gebuigde teelepel? Waarom sal hulle in elk geval moeite doen? Hulle is gewoond aan die gemiddelde luisteraarsprofiel, hulle ken die publiek se gemaksones. Ek twyfel.
In the end, it will probably be more of the same, more of the same. But we will survive, we will survive …