“Wat ‘n Ondekking” : Koos Kombuis

Bill Knight Wat ‘n ontdekking!


Hei, wie is die ou wat die liedjie more of the same onlangs op die tv-program going nowhere slowly gesing het? Vra opgewonde musiekliefhebbers mekaar. Die liedjie het hul verbeelding aangegryp. Die naam van die kunstenaar is aangegee as Bill Knight. Alice ellis het haar lyf speurder gehou en hom opgespoor. En besef hy is inderdaad ‘n weggesteekte juweel – al is sy liedjies gepoleerde diamante. Wat ‘n ontdekking!
‘N Mens is half verwonderd wanneer jy die sanger en liedjieskrywer Bill Knight die eerste keer ontmoet. Daar is trekke van Mick Jagger in hom, maar iets aan sy voorkoms laat jou ook aan Lou Reed dink, met titseltjies Tom Waits en Bob Dylan daarby.

Sy musiek word bestempel as ‘n Kaapse bredie van Engels en “kombuistaal”. Sy liedjie Kaapse draai (nee, nie die een wat Nadine sing nie) word deur die musiekkenner Dave Marks beskou as een van die tien beste Suid-Afrikaanse liedjies. Die beste manier om Bill se werk te leer ken, kom ek later agter, is deur na sy CD’s After the Rinderpest en Through Your Window te luister. Of om op die internet oor hom op te lees, om te sien waar hierdie man vandaan kom. Die man wat deur baie mense beskryf word as die hidden gem van Suid-Afrikaanse musiek. Jy hoef net sy liedjie Loving Eyes te ontdek om te besef dis een van die heel mooiste liefdesliedjies wat jy al gehoor het. En dit wil gedoen wees. Veral After the Rinderpest is ‘n album wat bevestig dat Bill Knight inderdaad ‘n verbergde juweel is.

Jy kan ook oplees wat kenners oor hom te sê het. In die woorde van Glenn Wilken: “It is one thing to be clever and oblique and another thing entirely to create such emotionally honest visceral songs that become easily anthemic to the everyman and never sound formulaic or contrived. He is a true storyteller. He has a unique, distinct sound that is a great canvas on which to paint his words. That he is not yet rich and famous is unfathomable.”

“Ek het my soort musiek eers skollierock genoem,” sê Bill (48). “Maar daar is nie rock in my musiek nie, nou noem ek dit ‘n Kaapse mengsel. Want my liedjies laat my dink aan ‘n ou koöperasie vol bottels met allerhande verskillende mengsels en goed daarin. En die beste tyd om na my musiek te luister is drie-uur in die oggend met oorfone.”

Bill is in Botswana gebore en die gesin het Kaapstad toe getrek toe hy agt was. Hulle het in Durbanville gebly en Bill in die koshuis by die Bishops-seunskool in Rondebosch. Daarna het hy regte gaan studeer aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad, waar hy Karl Raubenheimer ontmoet het. Raubenheimer was lid van die rockgroep Illegal Gathering (wat saam met James Phillips se groep Corporal Punishment die album The Voice of Nooit uitgereik het). Ná twee jaar op Rhodes het Bill teruggegaan Kaap toe en verder aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.

“Dit was Karl wat my aangemoedig het om liedjies te skryf en te sing,” vertel Bill. “Dit het nooit voorheen by my opgekom nie.” En hy het begin skryf.

In 1979 en 1980 was Bill in die weermag -“in die Infanterie, nogal, ek was kanonvoer”, merk hy op. Oor sy weermagervarings vertel hy stories wat ‘n mens se mond laat oophang (en laat besef dat daar nog ‘n versweë stuk geskiedenis is wat oopgeskryf moet word).

In 1981 het hy hom in Kaapstad gevestig en in die stadsraad se eiendomskantoor begin werk. Hy het by die Barleycorn Folk Club aangesluit, en sedertdien het hy hom gevestig as een van die stad se eerbiedwaardige musikante en skrywers.

Toe hy nog ‘n student aan die Universiteit van Kaapstad was, in 1978, moes hy een aand by ‘n konsert op die kampus optree in die voorprogram vir David Kramer, wie se eerste album, Bakgat! , twee jaar later verskyn het.

By die Barleycorn Folk Club het Bill kunstenaars soos Roger Lucey en Dave Ledbetter ontmoet wat hom aangemoedig het om sy musiek te begin opneem. Tussendeur is Bill se musiek ook gebruik in Seymour Howe se musiekspel Harbour: The Kalk Bay Musical , ook bekend as Lekker soos vars snoek . Dis in 1998 die eerste keer opgevoer en word steeds opgevoer. Bill het begin musiek maak met mense soos Lucey, die sangeres Caroline Blundell en die vioolspeler Terrence Scarr (wat ook deel was van Tananas se Orchestra Mundo).

Bill is nie so wyd bekend nie omdat hy van die begin af besluit het hy gaan die onafhanklike pad loop en nie sy musiek deur korporatiewe maatskappye versprei nie.

“Ek verkies dit om volledige beheer te hê. ‘n Platemaatskappy maak van ‘n kunstenaar niks anders nie as ‘n markgerigte verpakking, en so iets sou my verander het in iets wat ek nie is nie. Ek het nog altyd ‘n probleem gehad met die status quo. Mense word gedryf deur bemarking en reklame. Mense dink as iets in Sun City opgevoer word, moet dit uiteraard goed wees. Dis alles soos om in die wind te pie!”

Bill het deur die jare al ‘n bekende gesig geword op plekke soos die jaarlikse Barleycorn Festival en die Four Winds-fees in Port Elizabeth, die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, Up the Creek by Swellendam en Splashy Fen in die Drakensberge. Deesdae werk hy nie meer vir die stadsraad nie, maar het sy eie ateljee in Noordhoek.

Deesdae is Bill veral opgewonde oor die musiek van mense soos Radio Kalahari Orkes en Rian Malan. “Dit is deel van die ontdekking van ons ware erfenis. Dit maak ‘n mens opgewonde oor ons roots: jive en kwêla het begin gebeur net toe apartheid begin het. Die Radio Kalahari Orkes is vir my die opwindendste ding in Afrikaans sedert David Kramer se Karoo Kitaar Blues . Nico Carstens en Dave Ledbetter se Boereqanga was ook ‘n musikale speurtog na ons wortels.”

Wat gee hom nog ‘n pyn benewens die verpakking van kunstenaars as kommoditeite? “Tweegatjakkalse! Bevooroordeelde mense.” En wat gee hom ‘n kick ? “Jislaaik, dis moeilik om een ding uit te sonder, daar is so baie. Maar ek sal sê die wonderlike Oktober-weer in die Kaap – ek is lief vir misreën, dit doen die ding vir my.”

Goeie nuus vir almal wat gewonder het wie die kunstenaar is agter die liedjie opGoing Nowhere Slowly wat hulle so betower het, is dat ‘n mens na gratis uittreksels uit heelwat van Bill se liedjies kan gaan luister by www.billknight.co.za. Wat ‘n ontdekking!